Recent Reviews:
EAT OUT | FOOD24 | Wining & Dining
Cape Town Mag: 10 top African restaurants in Cape Town
Cosmopolitan online 2011: Monthly recipe feature
Frommers Travel Guide 2011/ 2010: For the best take on New South African cuisine.
Eat Out People's Choice 2010: Best Local Kos
Eat Out People's Choice 2008: Top 15 All Time Favourites
Eat Out People's Choice 2008: Top 10 Local Favourite.
download Eat Out article
Cognito dink oor sy kosse
Die Burger - Jeanne Hugo (21/06/2007)
In die historiese Dorpstraat van die Bolandse dorp Stellenbosch staan, amper weggesteek, 'n intieme restaurant met die naam Cognito. Soos die naam voorspel, word hier behoorlik besin - oor al die lekker dinge in die lewe: kos, wyn en goeie geselskap.
Die beste kuiers is dikwels dié wat op kort kennisgewing gebeur, mymer ek op pad na Stellenbosch, waar ek twee vriendinne – kom ons noem hulle, vir nou, Vinkel en Koljander – vir aandete in Cognito gaan ontmoet.
Dié restaurant is in Dorpstraat en het ’n spyskaart wat (met die lees op sy webwerf) my mond skoon droog van afwagting gelaat het en ook op my entoesiastiese tafelmaats ’n oeie indruk maak.
Ons haak vas by die voorgeregte, spesifiek by die Chinese rolletjies (R35). Anders as die gewone geurige groente- of vleisvulsel, is die drie rolletjies wat voor ons neergesit word, gevul met onderskeidelik gorgonzola-kaas en okkerneute, briekaas en amandels, en bokmelkkaas en dukkah – elke rolletjie op sy eie met ’n aarbei-, appelliefie- en heuningsous.
Terloops, party woordeboeke gee die appelliefie (in Engels Cape gooseberry) aan as pampelmoesie of pompelmoer. Afrikaans, jou mooie ding!
In ieder geval: Soos net ’n klomp vroue wat saamkuier, sal maak, bestel ons ’n porsie Chinese rolletjies om te deel. Elkeen vat ’n hap, stuur aan en kies ’n gunsteling. Die ander twee hou van die gorgonzola se sterk bloukaassmaak; ek verkies die sagte romerigheid van die briekaas.
Vir die hoofgereg besluit ons op iets ligs, om in die poeding-magie plek te los, want op die nageregspyskaart is ’n paar soetighede wat wag om ontdek te word.Ná ’n lang – plek-plek hittige – redenasie oor wie wat moet of mag eet (die reël is dat niemand dieselfde gereg mag bestel nie), kies ons soos volg:
Ek bestel die volstruisslaai, bestaande uit vlamgebraaide volstruisfilet, opgedien met snye lietsjie, somerbessies, slaaiblare en ’n gekarameliseerde lietsjie-vinaigrette (R52).
Oorkant my bestel me. Vinkel die garnaal-en-avokado-tortillabroodjie (R41). Dit word voorgesit met bronkorsslaai en ’n pynappel-en-soetrissie-salsa. Langs my kies me. Koljander ’n lekker ongesonde broderigheid: die biltong-en-soetrissie-ciabatta, voorgesit met geurige aartappelwiggies (R37).
Me. Koljander, wat ’n wynkenner-in-wording is, gooi ’n kennersoog oor die wynlys en verklaar haar beïndruk deur die verskeidenheid. Daar is ’n paar ongewone versnitte om van te kies; van my kant af kan ek sien dat Cognito nie probeer om die eter se sak leeg te skud vir ’n glas wyn nie.
Ons geniet egter sommer ’n bottel Laborie Shiraz wat ons gebring het. Die kurkgeld, wat R20 is, word met graagte betaal.
Cognito het ook ’n behoorlike skemerkelkie-spyskaart, wat maar op ’n ander keer beproef sal moet word. Die mojito’s wat verbykom, is genoeg om my vir ’n opvolgkuier te lok.
Maar dis nie asof die kos hulp nodig het om klante terug te lok nie. In hierdie eetplek word allerheerlik met ongewone bestanddele en kombinasies gespeel; gedink, soos die naam van die eetplek aandui. Ek hou daarvan, sommer baie.
Die ligte en pikante tortillabroodjie beklee volgens my ’n eerste plek op die podium, kort op sy hakke gevolg deur die ciabatta. Laasgenoemde het geen tekort aan skop of cholesterol (van die lekker soort) nie.
Ek is nie ’n kenner van volstruis nie, maar vermoed hy hoort in die veld eerder as op die bord. Hy smaak nie na veel nie, hoewel die res van die slaai ’n lus vir die oog en tong is; die soet-suur varsheid van die lietsjies en bessies kwalifiseer amper vir ’n nagereg.
Daarvan gepraat: Geen ordentlike dameskuier is sonder poeding afgerond nie.
Teen hierdie tyd het een van die mede-eienaars, Anien, haar by die tafel tuisgemaak en gee sy ’n bietjie leiding met die moeilike keuse tussen al die aanloklike snoepgoed.
Ons besluit op die sjokoladebruintjies (R26), sjokolademousse (R28) en crème brûlée (R30).
Geeneen van hierdie geregte is so eenvoudig soos dit klink nie, elkeen het ’n lekker kinkel. Die bruintjies word met klappersneeu (’n klapper-sorbet) voorgesit, die crème brûlée is met rooibostee en heuning gegeur, en die mousse is ’n trio, (donker, wit en melksjokolade) aangehits met onderskeidelik brandewyn, witblits en Amarula. Magtie! Ook die ander nageregkeuses trek die aandag. Cognito se panna cotta (R30) het nie die vanielje-, koffie- of likeurgeur soos ek dit ken nie, maar het ’n liggeel kleur en baie interessante smaak, danksy die toevoeging van ’n greintjie saffraan. Hierdie eksotiese gereg is nie iets wat in almal se smaak sal val nie, maar dit maak ’n ondersoekende hap die moeite werd.
’n Ander belowende keuse, iets vir ’n ander dag, is die fudge (R30). ’n Paar happies van dié lekkerny word voorgesit met gevriesde bolletjies vrugte (soos byvoorbeeld winterspanspek).
Soos voorheen volg nou ’n oor-en-weer-proeëry soos min. Van al die soetighede verklaar ek die kombinasie van ryk bruintjie en vars klappersneeu tot die treffer; ’n onverwagse maar treffende kombinasie.
Ons gasvrou kyk met ’n tevrede glimlag toe – en met reg, want haar kombuis werk klaarblyklik klopdisselboom, en die geregte wat daar geskep word, is hoogs heerlik. Dit spreek van smaak en ’n bereidheid om te eksperimenteer. Netjies.
Cognito kry Pasella-besoek
Eikestadnuus (27/10/2006)
In Augustus het Pasella die Cognito-span verfilm as deel van hul program oor blomme. Diani en Anien het 'n kontemporêre, dog subtiele Afrika-geur gevestig in hul Cognito-restaurant, wat sy deure in September 2004 in 'n 250 jaar oue gebou in Dorpstraat geopen het en sedertdien met groot sukses bedryf word.




